Hier teen die soom van die see
trek vrees jou voete vas in die sand. verstok jou lyfie soos dryfhout terwyl jou oë verlangend gly na die winkende deinings agter die skuim. Sagte Mamma arms omvou jou vrees. Sterk Mamma arms lig jou seunskind lyf tot hier teen die holte bo my heup Waar ek jou veilig gedra het (Eers binne my en later kleuterlyfie teen my gerank.) Skoppend en skreeuend wriemel jy in my armharnas Terwyl ek jou vasberade deur brekende branders sleep, jou voete sagkuns neerplaas op die sandbank, skommel-skuim agter jou rug Vergenoegd gekneus kyk ek hoe jy die middag om speel oor klein skulpkrul branders spring, kluisenaarkrappies in die getypoele soek, seemeeue oor die sandbank jaag. Saam met jou pa in die gladde golwe speel en visse soek. Net so, my kind, sal ek jou elke keer, liefdevol gedetermineerd, deur die skuimende branding van die lewe sleep, totdat jy eendag self die moed het om deur die brekende branders te beur na die vreugde aan die ander kant. Amanda Smith 2009
1 Comment
Swaar soos ‘n dooie
sak my vlees dieper in die aarde se hol hand. Los my lyf bietjies-bietjies die web deur my dag gespan. Met vlak asem spiraal my fokus wig dieper na die klein stil plek binne my. Dáár woon Opstandingskrag! Hoop wolk uit in ewiggroeiende sampioene. Waar die aarde sy mantel om my vou vind ek myself en Jou. Amanda Smith 3/16/2012 Hoe lank al kap-kap
my beiteltong sy wees? Hap ek stukkies vlees met bitsige skalpel. Soos Michelangelo uit marmer, sal ek ‘n Dawid uit hom skep. “Laat staan, My kind,” vermaan Hy sag. “Weet jy dan nie Ek het hom gesmee?” Skaam lê ek my beitel neer nederig op my knieë, siel naak, sien ek ‘n man van God ontwaak. Amanda Smith 6/12/2011 Liefde kom sit huis op in my,
hang Sy jas in my voorportaal kas en skop gemaklik Sy skoene uit. Liefde bring meubels en blompotte, rol oop die ryk tapyt, hang prente teen die mure. Liefde stof af, vee uit, herrangskik. Liefde word groot in my, volwasse, bejaard, totdat ek uiteindelik lyk soos Hy van vrees, veroordeling, die dood bevry! Amanda Smith 2011 Laat somer woed ‘n orkaan
deur ooskus woude. Lenige ledemate, uit hul potjies geruk, lê gestrooi oor die gras - Gevalle helde op ‘n slagveld. Rou wonde in boomlywe roep asemloos om hulp. Ou manne gee op, sug swaar en val agteroor. Hul voete onwaardig naak. Oktober val sagte sneeu onseisoenaal nat en dik op oranje, geel en rooi. Skraal meisies geklee in feesrokke dra swaar aan ‘n ongenooide winterjas en steier onder die onverwagte gewig. Herfsklam lendene swik, wring, bars oop En hang leweloos. Warmer winter dae vel werkers met kettingsae die swaar gewondes. Oerkolosse kreun, buig vir oulaas majestieus, en sneuwel knarsend in die onderbos. Ongemerkte stom stomp-grafstene getuig rou van eens trotse helde. Laat Maart blaas ‘n ysasem oor lente se eerste skaam maagde. Blosende magnoliaknoppe ryp verneder verniel tot vaalbruin goiing lappe. April ontplof in skarlaken botsels, heldergroen blaartjies, wit peerbloeisels. Oornag plak die dik onderbos ‘n pleister oor die boomverwoesting. Nuwe lewe verduister bewyse van ‘n onboom jaar. Maar op die horison huil holtes van eens grasieuse reuse. Lê leegtes waar daar lewe was. 2012 |
Afrikaansis my mother tongue. It is my heart-language. And when I first returned to writing, I wrote mostly about the things of my heart, in the language of my heart. Some poems have been translated to English and can be found here. ArchivesCategories |