Amanda Smith Writes
  • Home
  • About
  • Writing
  • Blog
  • Poems
    • Afrikaans
  • Quick Reviews
  • Resources
  • Contact

Afrikaanse verse

Hier teen die Soom van die See

12/19/2018

1 Comment

 
​Hier teen die soom van die see
trek vrees jou voete vas in die sand.
 verstok jou lyfie soos dryfhout
terwyl jou oë verlangend gly
na die winkende deinings agter die skuim.
 
Sagte Mamma arms omvou jou vrees.
Sterk Mamma arms lig jou seunskind lyf
tot hier teen die holte bo my heup
Waar ek jou veilig gedra het
(Eers binne my en later
kleuterlyfie teen my gerank.)
 
Skoppend en skreeuend wriemel jy in my
armharnas
Terwyl ek jou vasberade deur
brekende branders sleep,
jou voete sagkuns neerplaas  op die sandbank,
skommel-skuim agter jou rug
 
Vergenoegd gekneus kyk ek hoe jy die middag om speel
oor klein skulpkrul branders spring,
kluisenaarkrappies in die getypoele soek,
seemeeue oor die sandbank jaag.
Saam met jou pa in die gladde golwe speel en visse soek.
 
Net so, my kind, sal  ek jou elke keer,
liefdevol gedetermineerd,
deur die skuimende branding
van die lewe sleep,
totdat jy eendag self die moed het
om deur die brekende branders te beur
na die vreugde aan die ander kant.

Amanda Smith
​2009
1 Comment

Savasana

12/19/2018

0 Comments

 
Swaar soos ‘n dooie
sak my vlees dieper
in die aarde se hol hand.
Los my lyf  bietjies-bietjies
die web deur my dag gespan.
Met vlak asem
spiraal my fokus
wig dieper na
die klein stil plek binne my.
Dáár woon Opstandingskrag!
Hoop wolk uit in ewiggroeiende sampioene.
Waar die aarde sy mantel om my vou
vind ek myself
en Jou.

Amanda Smith
3/16/2012

0 Comments

Beeldhouer

12/19/2018

0 Comments

 
Hoe lank al kap-kap
my beiteltong sy wees? Hap
ek stukkies vlees
met bitsige skalpel.
Soos Michelangelo uit marmer,
sal ek ‘n Dawid uit hom skep.
“Laat staan, My kind,” vermaan Hy sag.
“Weet jy dan nie Ek het hom gesmee?”
Skaam lê ek my beitel neer
nederig op my knieë,
siel naak,
sien ek ‘n man van God ontwaak.

Amanda Smith
​6/12/2011
0 Comments

​1 Johannes 4

12/14/2018

0 Comments

 
Liefde kom sit huis op in my,
hang Sy jas
in my voorportaal kas
en skop gemaklik Sy skoene uit.
Liefde bring meubels en blompotte,
rol oop die ryk tapyt,
hang prente teen die mure.
Liefde stof af,
vee uit,
herrangskik.
Liefde word groot in my,
volwasse, bejaard,
totdat ek uiteindelik lyk soos Hy
van vrees,
veroordeling,
die dood
bevry!

​Amanda Smith 2011
0 Comments

Onboom Jaar

12/14/2018

0 Comments

 
Laat somer woed ‘n orkaan
deur ooskus woude.
Lenige ledemate,
uit hul potjies geruk,
lê  gestrooi oor die gras - 
Gevalle helde op ‘n slagveld.
Rou wonde in boomlywe
roep asemloos om hulp.
Ou manne gee op,
sug swaar en val agteroor.
 Hul voete onwaardig naak.
 
Oktober val sagte sneeu onseisoenaal
nat en dik op oranje, geel en rooi.
Skraal meisies geklee in feesrokke
dra swaar aan ‘n ongenooide winterjas
en steier onder die onverwagte gewig.
Herfsklam lendene swik, wring, bars oop
En hang leweloos.
 
Warmer winter dae
vel werkers met kettingsae
die swaar gewondes.
Oerkolosse  kreun,
buig vir oulaas majestieus,
en sneuwel knarsend in die onderbos.
Ongemerkte stom stomp-grafstene
getuig rou van eens trotse helde.
 
Laat Maart blaas ‘n ysasem
oor lente se eerste skaam maagde.
Blosende magnoliaknoppe ryp
verneder verniel tot vaalbruin goiing lappe.
 
April ontplof in skarlaken botsels,
heldergroen blaartjies, wit peerbloeisels.
Oornag plak die dik onderbos
‘n pleister oor die boomverwoesting.
Nuwe lewe verduister bewyse
van ‘n onboom jaar.

Maar op die horison huil holtes
van eens grasieuse reuse.
Lê leegtes waar daar lewe was.

2012
0 Comments

    Afrikaans

    is my mother tongue. It is my heart-language. And when I first returned to writing, I wrote mostly about the things of my heart, in the language of my heart. Some poems have been translated to English and can be found here.

    Archives

    December 2018

    Categories

    All

    RSS Feed

Proudly powered by Weebly
  • Home
  • About
  • Writing
  • Blog
  • Poems
    • Afrikaans
  • Quick Reviews
  • Resources
  • Contact