Hier teen die soom van die see
trek vrees jou voete vas in die sand. verstok jou lyfie soos dryfhout terwyl jou oë verlangend gly na die winkende deinings agter die skuim. Sagte Mamma arms omvou jou vrees. Sterk Mamma arms lig jou seunskind lyf tot hier teen die holte bo my heup Waar ek jou veilig gedra het (Eers binne my en later kleuterlyfie teen my gerank.) Skoppend en skreeuend wriemel jy in my armharnas Terwyl ek jou vasberade deur brekende branders sleep, jou voete sagkuns neerplaas op die sandbank, skommel-skuim agter jou rug Vergenoegd gekneus kyk ek hoe jy die middag om speel oor klein skulpkrul branders spring, kluisenaarkrappies in die getypoele soek, seemeeue oor die sandbank jaag. Saam met jou pa in die gladde golwe speel en visse soek. Net so, my kind, sal ek jou elke keer, liefdevol gedetermineerd, deur die skuimende branding van die lewe sleep, totdat jy eendag self die moed het om deur die brekende branders te beur na die vreugde aan die ander kant. Amanda Smith 2009
1 Comment
|
Afrikaansis my mother tongue. It is my heart-language. And when I first returned to writing, I wrote mostly about the things of my heart, in the language of my heart. Some poems have been translated to English and can be found here. ArchivesCategories |